top of page
Patensie middelbare skool-1.jpg
Patensie middelbare skool-2.jpg

ONS SKOOL SE GESKIEDENIS

Ons eerste Departementele skoolgebou is in 1903 in gebruik geneem.

Die oudste beskikbare rekord van die Patensie skool is te vinde in die "Register of Admission and Withdrawal" waarin die eerste inskrywing, op 20 April 1903, die van Ignatius L. Rautenbach was, wat tot St. 7 toegelaat is.

​

Altesaam vyftig leerlinge is ingeskryf tot klasse wat wissel van Sub A tot St. 7 op daardie datum.  Daar kan dus met redelike mate van sekerheid aanvaar word dat die stigtingsdatum van die skool 20 April 1903 was.

​

Op 20 Julie 1903 is 'n verdere agt leerlinge ingeskryf en op 5 Augustus 1903 nog drie leerlinge.  Hierdie leerlinge is skynbaar van 'n ander skool af oorgeplaas.  Hierdie besonderhede is aangeteken in 'n pragtige handskrif wat vermoedelik dié van die eerste skoolhoof mnr. John Clarke is.  Die naam van die skool was "Patientie East" met 'n A III status.  Die "correspondent" was Cornelius Rademeyer van Patensie.

Twee van mnr. Clarke se dogters, Theresa en Marjorie, is op 20 April 1903 toegelaat to St. 5 en Frances tot St. 3.  John Clarke (seun) is op 10 Oktober 1904 tot St. 1 toegelaat.  Aangesien mnr. Clarke net Engels kon praat, was dit vir die kinders sowel as die ouers 'n groot probleem.  Op 7 September 1903 het die Inspekteur van skole, mnr. A.B. Bartman, inspeksie gedoen en weer op 5 Augustus 1905.

Die laaste inskrywing in die handskrif van mnr. Clarke was op 16 Junie 1906.  Patensie skool is later verskuif na 'n nuwe gebou van mev. Hettie Ferreira en dit word na haar dood die eiendom van haar seun, Teddy Ferreira.  Dit word onthou as die "Ou Skool by die groot Akkerbome."  Daar was ook 'n dubbelverdiepinghuis wat as die woonhuis vir die skoolhoof gedien het.

​

Na mnr Clarke se vertrek word mnr. Varnfield as skoolhoof aangestel.  Sy salaris was 50 pond (R 100) per jaar plus gratis inwoning.  Die skool met sy twee klaskamers se huurgeld was 24 pond (R 48) per jaar.

​

Die registerinskrywing volg op 8 April 1907 in die handskrif van mnr. R.W. Pettit, wat blykbaar vanaf daardie datum die skoolhoof van Patensie geword het.  Mnr. Pettit verlaat Patensie gedurende Junie 1911.

Op 10 Augustus 1911 was daar weer inspeksie en die rapport lui onder andere as volg: "It is very evident that the teacher who has just left had lost heart in his work..." 

Na mnr. Pettit se vertrek in Junie 1911, skyn dit asof ene mnr. Pienaar die enigste hoof was van Patensie skool tot en met die koms van mnr. W.J. du Toit in April 1917.  Saam met mnr. Pienaar was mej. De Klerk blykbaar die enigste onderwyseres. 

Daar was 'n gaping in die hou van inspeksie tot 15 Junie 1914 toe daar weer 'n inspeksierapport uitgereik is.  'n Interessante paragraaf lui as volg: "In question of classification the teacher should be guided by his knowledge of the pupils' capabilities and should not allow himself to be influenced by the wishes or threats of parents."

Op 9 Junie 1915 verskyn daar vir die eerste keer 'n inspeksierapport in Afrikaans of liewer Hollands.  Die inspeksierapport, weer eens in Hollands, van 20 Junie 1916 word sterk beïnvloed deur die vloed van daardie jaar toe die water van die Gamtoosrivier drie voet diep deur die skoolgebou gevloei het en daar vir drie weke geen "school gehouden word."

IMG_20220207_151208_edited.jpg

Die boeke, banke en mure dra die letsels van die modderwater tydens die vloed.  Mnr. Pienaar verlaat Patensie in April 1917.

Mnr. W.J. Pienaar word vanaf April 1917 aangestel as die skoolhoof van Patensie skool, 'n pos wat hy tot en met sy uittrede gevul het.  Vanaf April 1917 is die rekords in goeie orde.  Alle inspeksierapporte dui op goeie werk gedaan.  Omstandighede was nie altyd gunstig nie soos blyk uit die volgende: "Die school terrein staan geheel open voor ronddolende vee... terwyl die twee buitengemakken (toilette) zonder deuren en in't algemeen in een onbevredigende toestand zijn."

​

Vir die kinders van die dertigerjare was daar twee geliefde onderwyseresse saam met die destydse skoolhoof, mnr. Du Toit.  Die een, mej. Scott, is later getroud met 'n mnr. Van Rooyen.  Die ander baie bekende en bekwame onderwyseres was juffrou Ester Vermeulen, sy is later getroud met oom Louw Bezuidenhout, vader van Kobus Bezuidenhout van die Vallei.

IMG_20220207_151258_edited.jpg

Mnr. Du Toit was 'n baie streng, maar regverdige skoolhoof.  Die woord sielkunde was daardie jare 'n onbekende woord, maar lyfkunde met 'n kweperlat ja, dit was aan ons welbekend en toegepas.  Voordat die laaste lat gedaan was is aan 'n seun 'n knipmes gegee met die opdrag om ses kweperlatte in die kweperlaning te gaan sny.  Vir straf, wanneer nodig, moes die dogters hul hande hou vir die houe van die kweperlat.  Die seuns was minder gelukkig, hulle moes vorentoe buk vir houe op die boude.  As van die seuns 'n klaswerkboek agter in hul broek gedruk het om die houe af te weer, het mnr. Du Toit dit gou agtergekom.  Vir die klas was dit groot "sports" as die boek uitgehaal is.  Daardie houe het dan ook nie getel nie. Ten spyte van die pakkry het daar gelukkig baie ander gebeurtenisse en staaltjies, te veel om van alles te skryf, plaasgevind, wat die lewe aangenaam en interessant gemaak het.  

Met mnr. Du Toit se verjaarsdag is 'n "spider" opgemaak met Jakarandablomme.  Hy word dan vir 'n paar myl ver in die "spider" rondgetrek en gestoot deur al die kinders, tot groot vermaak van almal.  Daardie dag was 'n besondere dag; niemand het raas of pak gekry nie en almal, selfs die paar onderwysers, was vrolik.

​

Op kerklike gebied was mnr. Du Toit 'n leidende figuur.  Hy het jare lank op die kerkraad gedien.  In afwesigheid van die predikant het hy kerkdienste, bidure en begrafnisdienste waargeneem. Na die 1932 vloed verhuis mnr. Du Toit na 'n nuutgeboude woonhuis naby waar die huidige skool tans staan.  Gedurende 1937 word daar afskeid geneem van die ou skool en word die nuutgeboude skool (die huidige) in gebruik geneem.

Patensie middelbare skool-2.jpg

Einde Desember 1943, na sewe-en-twintig jaar getroue diens, tree mnr. Willie du Toit uit as skoolhoof van Patensie en gaan vestig hom in die Kaap.  Januarie 1944 word mnr. K.M. Lambrecht aangestel as hoof van Patensie skool. Hy vertrek in 1946.  Mnr. H.L.F. Koch, wat vanaf Julie 1946 as hoof aangestel was, het 'n geweldige groot bydrae gelewer op die gebied van onderwys in die Gamtoosvallei.  Die status van Patensie skool is vanaf Januarie 1952 verhoog na dié van Middelbare skool. Mnr. Koch was buitemuurs meelewend, ook op kerklike gebied was hy behulpsaam en het jare lank die pinksterbidure op 'n baie bekwame wyse gelei.  Junie 1960 vertrek mnr. Koch na Nababeep, en word kort daarna aangestel as inspekteur van skole. 

Mnr. J.J. Visser word aangestel as skoolhoof vanaf Januarie 1961.  Alhoewel die notuleboek vanaf Januarie 1958 tot Desember 1965 op soek is, kon ons wel 'n fotostaat, geneem uit die 1962 jaarblad, plaas waarin die waarnemende skoolhoof, mnr. J. van N. Joubert, in sy afskeidsboodskap dit duidelik uitspel wat mnr. Visser vir die Gamtoosvallei se kinders en gemeenskap beteken het.  Mnr. Visser vertrek Junie 1962 na die Hoërskool Clanwilliam en word later bevorder tot streekhoofinspekteur van onderwys in Port Elizabeth.

​

Ons skoolsaal is geopen op Donderdag, 24 September 1964 om 10vm.

IMG_20220207_151322_edited.jpg
IMG_20220207_151347.jpg
IMG_20220207_151432.jpg
IMG_20220207_170733_edited.jpg
IMG_20220207_170727_edited_edited.jpg
ANNELI_0230.jpg
IMG_20220207_151223_edited.jpg
bottom of page