top of page
MORE LEGO PIECES.png

'n Gesprek oor
BOELIE

Donderdagaand, 5 Junie 2025

Laerskool Gamtoosvallei Skoolsaal

​

- Lynette van Onselen

'n Gesprek oor Boelie

Ons het op Donderdagaand, 5 Junie 2025, die voorreg gehad om Lynette van Onselen by ons skool te verwelkom en saam met haar te gesels oor die eenvoudige woord "boelie".

 

Hoewel hierdie paar lettertjies onskuldig lyk, is die aksie wat daarmee gepaardgaan iets wat kinders daagliks beleef - iets wat soveel ongelukkigheid en hartseer veroorsaak, veral onder ons jongmense. Soms het dit selfs ongelooflik hartseer gevolge.

 

Lynette het met ons leerders gesels en die beeld van Lego-blokkies gebruik. Hoe vervelig sou dit wees om net 'n sak vol rooi blokkies te hê om mee te speel? Wat kan 'n mens daarmee bou?

'n Mens het 'n basisblokkie, vensters, deure, langer blokkies en kleiner blokkies nodig om 'n huis te bou.

 

Net so moet kinders hulleself sien - as 'n unieke blokkie met 'n spesifieke doel. Nie almal kan 'n deur of 'n venster wees nie. Nie almal is grasblokkies of muurblokkies nie. Ons het verskillende blokkies nodig. So het die wêreld verskillende persoonlikhede nodig - en die wêreld het jou nodig, nes jy is.

​

​

​

​

​

​

​

​

 

Genesis 1:26

"En God het gesê: Laat Ons mense maak na Ons beeld,

na Ons gelykenis."

 

Die Bybel sê duidelik dat ons almal in God se beeld geskape is. Hoe besonders is dit om te weet dat Iemand jou só liefhet dat Hy jou gemaak het met 'n spesifieke doel.

Niemand het die reg om jou ooit te laat voel jy is nie die moeite werd nie. God het van die begin af besluit jy is die moeite werd. Hy het jou geskep met 'n doel, presies nes jy is.

 

Ons wens vir ons skool is om heel en gelukkige #Gammies die wêreld in te stuur, sodat hulle hul eie doelwitte kan bereik - soos wat God dit wil hê. Heel kinders wat soos Jesus lyk, word die Koninkryk van God.

 

"Hoe meer ons soos Jesus word, hoe meer word ons mens."

 

Kyk gerus na die kindersegment en Lynette se Lego-vergelyking:

Gepubliseer met toestemming.

 

 

 

 

 

 

​​

​

​

​

​

​​

​

Vir die ouergesprek:

Gebruik asseblief hierdie skakel om toegang te verkry tot die gesprek wat net met ouers gevoer is.

Die skakel sal u neem na 'n video met wagwoordtoegang.

Die wagwoord sal met u gedeel word.

​

​

​

​​

​

​​

​

​​​​​​Lynette het vir 'n oomblik net met ouers gesels. Sy het onder meer gewaarsku teen die gevare van selfone en sosiale media. In die verlede was boelies net by die skool. Kinders kon huis toe gaan en rus in die veiligheid van hul huis en kamer. Vandag gaan boelies saam huis toe op selfone.

Boodskappe word gestuur, goed word op groepies geplaas en kinders het toegang tot verskeie sosiale media platforms.

 

Toepassings soos Snapchat hou geen geskiedenis nie - sodra 'n boodskap gelees is, verdwyn dit. Niks kan bewys word nie. Wanneer iemand 'n skermgreep (screenshot) neem, word die ander persoon in kennis gestel.

 

Daarom is dit van kardinale belang dat kinders hierdie gevare besef en dat hulle die vrymoedigheid het om met 'n volwassene te praat indien hulle enige vorm van boelie ervaar.

 

Vorme van boelie:

  • Fisies: Iemand maak jou seer, trek jou hare, of stamp jou sonder rede.

  • Verbaal: Iemand sê seermaak-woorde soos: "Jy is lelik / stadig / vet."

  • Emosioneel: Iemand breek jou selfbeeld af en laat jou voel jy is nie goed genoeg nie.

 

Ouderdomsperking vir sosiale media:

  • WhatsApp: 13 jaar

  • Instagram: 13 jaar

  • Facebook: 13 jaar

  • Snapchat: 13 jaar

  • TikTok: 13 jaar

 

Vir enige navrae rondom hierdie onderwerp, kontak asseblief meneer Tiaan. Hy is altyd beskikbaar indien 'n #Gammie iemand nodig het om mee te gesels. Gebruik asseblief hierdie geleentheid om 'n gesprek te begin as jy dink dit is nodig.

 

Alle kommunikasie word vertroulik hanteer.​​​​​​​​​​​​​​

LEGO HEART.png
Laerskool Gamtoos Vallei Emblem (Hig Res).png

"Die grootste natuurlike hulpbron, is die gedagtes van ons kinders."
- Walt Disney

+27 42 283 0246     admin@lsgamtoos.co.za     Teddy Ferreiraweg, Patensie

ONS KLIM STEEDS

© 2025 gehou deur Anneli Young

bottom of page